Oor die skrywer

Oor Pieter Craffert

Pieter Craffert

Pieter F. Craffert is Emeritus Professor by Unisa en 'n Alexander von Humboldt-genoot.

Meer as twee dekades gelede het sy dissiplinêre navorsing oor religieuse ervarings verskuif na interdissiplinêre navorsing oor sjamanisme en alternatiewe bewussynstoestande (ABT's). Hy skryf ’n boek oor Jesus as sjamaan figuur en naas die spesifieke model van sjamanisme is die belangrikste bydrae van die boek oor historiese navorsing. ’n Bedryf wat grootliks gerig word op die identifisering van outentieke materiaal om die historiese Jesus te beskryf, word omvorm in ’n historiese metode wat gerig is op die verstaan binne konteks van materiaal wat in ’n vreemde kulturele wêreld ontstaan het.

Sentraal tot alle teoretisering oor ABT's is 'n definisie van menslike bewussyn, wat nou 'n volledig transdissiplinêre navorsingsveld is. Sy navorsing oor die neurowetenskappe van bewussyn en die studie van ABT's het uitgeloop op 'n monografie oor bewussyn (The fabric(ation) of consciousness: A neuro-ecological perspective (Kaapstad: Aosis): 2024, https://doi.org/10.4102/aosis.2024.BK500).

Vandag word die studie van bewussyn beskou as een van die min onopgeloste wetenskaplike vraagstukke van die 21ste eeu, aangesien dit die mees sentrale aspekte van menswees raak. Wat is 'n mens, en wat is die materiële aard van menswees? Teorieë oor bewussyn is in wese uitdrukking van vooraf opgestelde sieninge van die werklikheid (ontologieë). Bewussynsnavorsing sal nie loskom uit die knyptang van die vermenigvuldiging van onversoenbare teorieë voordat dit begin vrede maak met die debat oor die wesenlike aard van bewussyn nie. Die huidige debat wentel tusssen bewussyn as ’n illusie of epifenomeen van materie of as ’n fundamentele element van die werklikheid (soos swaartekrag). Beide berus op ’n substans ontologie en alternatiewe kan net ontwikkel uit alternatiese ontologieë. Bewussyn is ’n sisteemfenomeen wat nou aan biologiese organismes gekoppel is. Sy huidige navorsing is 'n uitbreiding van bewussynsnavorsing, met besondere belangstelling in die implikasies vir die wêreld wat deur kunsmatige intelligensie (KI) geskep word, en bevraagteken of KI bewus kan word (of kan wees).

← Terug na die tuisblad